Sober Uil is my en Skoonsus se neef. Hy het homself die naam besorg in sy “storm-en-drang-jare” op Stellenbosch. Hy’t na sy ouers as die Uile begin verwys aangesien hulle hom snags, as hy van wie weet waar af by die huis kom, soos uile op die bed se styl vir hom sit en wag het. Dan het hulle, met koel ronde oe vir hom gese: “Hoe-hoe laat is dit?”
So het die res van die familie toe later vir elke Uil sy eie naam gegee. Sy ma is Nonnietjies Uil, sy pa, Hoof Uil en hy…Sober Uil.
Sober Uil is baie geliefd en het ‘n baie mooi persoonlikheid, maar is eers tot sosiaal aanvaarbaar getem toe hy sy vrou ontmoet het. Al het ons hom almal met ons hele harte lief, moet almal naby aan hom, erken dat hy ‘n ligte vorm van die een of ander soort obsesiewe afwyking het…
In sy allerdaagse doen en late is daar baie bewyse hiervan, maar die mees algemene, is sy obsessie met sy vrou se geluk.
As ons almal saam vleis braai of kuier, sal Sober Uil deur die loop van die aand herhaaldelik vir sy vrou vra: “Bokka, is jy nog happy?”
Dit word gewoonlik beantwoord deur die vriende en famielie wat hom uitlag terwyl Bokka net geduldig glimlag en liefdevol knik.
So word Bokka swanger met hul eersteling. Die opgewondenheid loop hoog! Almal tel die maande af na die Uilskuiken se geboorte! Sober Uil se obsessie oor sy swanger vrou se geluk bereik nuwe hoogtes, en die gespot word erger, maar hy is te ekstaties oor sy en Bokka se geluk om hom daaraan te steur!
Die groot dag breek aan en Uilskuiken sien die lig met ‘n gesonde 3.6 kg agter hom en (ironies genoeg!) dons haartjies wat regoor sy kop regop staan. Die sekonde toe hy sy eerste skreeu gee, maak Sober Uil se obsessie ‘n 180 grade draai vir die ergste!
“Bokka, voel hy nie vir jou warm nie?”
”Bokka, is hy nie dors nie?”
“Bokka is jy nog gelukkig met my en Uilskuiken?”
“Bokka, ek dink hy’s vaak!”
Toe Uilskuiken 3 maande oud is, het Bokka ‘n break nodig. Sy boek vir haar ‘n “facial” en kondig aan dat Sober Uil vir die eerste keer alleen na Uilskuiken sal moet kyk.
Toe sy ‘n uur en ‘n half later by die huis opdaag, wag Sober Uil haar in met koel ronde oe (..seker geneties..) en Uilskuiken, tevrede in sy arms.
“Bokka, jy sal my nie glo nie. Hy het rustig hier in sy bed gele en ek was in die kombuis. Die huis was tjoep stil en toe hoor ek, so duidelik soos daglig, hoe se hy ‘Veld Muis!’”
Natuurlik word Sober Uil vandag nog genadeloos gespot hieroor, maar geen redenasie kon hom oortuig dat dit onmoontlik was nie.
“Ek se nou vir julle, ek het hom gehoor! Hy het dit duidelik soos daglig gese: ‘Veld muis!’”
Toe hy sien dat niemand, nie eers sy, altyd ondersteunende, Bokka, hom glo nie, het hy dadelik ‘n baba monitor gaan koop. (Al is die huis waarin hulle bly so klein dat Uilskuiken beswaarlik sy ‘dummy’ kan suig sonder om in elke hoek van die huis gehoor te word.) Want, het hy geglo, “..hy gaan dit se as ons dit die minste verwag…”
Vir weke het Bokka op Sober Uil afgekom waar hy gebukkend oor Uilskuiken se bed sit en se : “…velt…muis..Se weer vir Pappa…velt…muis..” Maar Uilskuiken het geswyg!
Die baba monitor het baie vinnig in ‘n wit olifant verander. Om die waarheid te se, dit was een van die eerste wit olifante wat die BoesemBuddies ooit verkoop het!
Uilskuiken is vandag 3 jaar oud. Hy het ‘n baie goeie woordeskat vir sy ouderdom, maar snaaks…die een ding wat hy vandag nog weier om te se is veld muis…












Wit Olifante