You are here: Home Stories NorthStars word wit olifante

Wit Olifante

NorthStars word wit olifante

Die BoesemBuddies het ’n engelse vriendin.   Sy het onlangs saam met haar gesin getrek na ’n klein  dorpie.  Haar kinders is nog in die laerskool en omdat hulle Engelssprekend is maak hulle moeilik maatjies in die oorwegend Afrikaanse omgewing.  Daarom besluit sy en haar man toe om hulle by die privaat skool op die nuwe dorp in te skryf aangesien daar darm nog ‘n paar engels sprekende maatjies is.

Maar omdat engelse vriendin nuut is en seker ook omdat sy engelssprekend is, leer sy self ook nie baie mense ken binne die eerste maand en ‘n half van die jaar nie.  Sy gesels dus maar elke oggend met die skoolsekretaresse ‘n paar woorde en so hulle raak goed bevriend.

Een oggend vertel sekretaresse vir haar van die fondsinsameling wat die skool elke jaar hou, waarin die ouers teen mekaar netbal speel.  Hulle oefen net een keer voor die groot dag en dit is regtig elke jaar groot pret!

Engelse vriendin het nie eers op skool netbal gespeel nie en is glad nie sportief nie, maar ter wille van haar kinders besluit sy sy is bereid om haar naam krater te maak.  Daarby kan dit ’n goeie manier wees om ‘n bietjie met die ander mammas te meng en dalk ‘n vriendin of twee te maak, oortuig sy haarself!

Die sekretaresse sê vir haar hoe en waar en sy belowe om die Woensdag aand by die oefening te wees, solank die sekretaresse ook daar is, want sy ken niemand!

Engelse vriendin bel haar ma oor die basiese netbal reëls en gaan koop vir haar ’n  paar NorthStar tekkies by Pep.  Sy raak al hoe meer opgewonde oor die sosiale kontak wat sy binnekort met die ander mammas gaan hê en sien uit om ‘n bietjie saam met hulle te lag en pret te hê!

Die Woensdag middag van die oefening kom sy by die netbalbane aan en sien dat die ander mammas al strek en opwarm.  Sy sien nêrens vir sekretaresse nie, maar besluit om spontaan te wees. Sy val dus sommer saam met die ander in en begin strek met net ’n vriendelike glimlag en ’n paar kop knikke in die ander mammas se rigting.

Sy kom egter gou agter dat die mammas ’n bietjie meer ernstig oor die oefening is as wat sy haar voorgestel het toe hulle begin lyne hardloop.  Dit voel vir haar of haar bene later sonder haar medewete kom en gaan.  Haar asem blaas en haar gesig trek onbeheers soos sy na suurstof snak!  Sy voel dis  heeltemal onnodig om so intens op te warm vir ’n vriendelike wedstryd, maar sy besluit om niks te sê nie.  Sy wil mos vriende maak!  Dus doen sy net haar bes om haar gesig in ’n glimlag te trek elke keer as een van die ander mammas besorg ’n hand op haar skouer sit en vra: “Is jy okay?”

Maar toe die fluitjie blaas skrik sy haar amper dood toe die hulpdoel skielik voor haar inspring.  Haar arms is  voor haar bors en sy spring op en af, styf teen engelse vriendin terwyl sy haar deurentyd intens en direk in die oë kyk!

Sy kom gou agter dat die ander mammas haar nie juis goedgesind is nie.  Toe die eerste bal in haar rigting gegooi word, tref dit haar op die krop van haar maag met soveel krag dat sy agteruit styer terwyl sy haar wind probeer terug kry.

Uit die hoek van haar oog sien sy hoe  twee mammas vir mekaar kyk en hul oë rol!  Maar sy besluit sy kan ook ‘bitcy’ wees en gaan neem weer haar plek langs die hulpdoel in.

Toe sy die bal ’n tweede keer probeer vang, stamp die mamma wat teen haar speel haar so hard weg, dat sy val en haar elmboog velaf skraap!  Weer word koppe geskud terwyl die hulpdoel haar ophelp en halfhartig om verskoning vra.

“I wanted to make friends, but I’m doing this for my children and I will not give UP simply because you don’t want me here!” dink sy en neem weer dapper haar plek in.

Vir die volgende uur hardloop sy heen en weer en gee haar alles.  Hulle trap op haar voete, stamp haar om en sy moet ’n paar keer koes om ’n elmboog in die gesig te mis.  Sy voel in die pad en dit is duidelik uit die ander mammas se houding teenoor haar dat hulle ook so dink, maar sy druk deur!

Toe hulle klaar geoefen is, voel sy naar.  Haar hare hang in natgeswete toutjies op haar voorkop en dit voel of sy nooit weer die ritme van haar asemhaling gaan terugkry nie.  Haar bors brand en sy is bloed rooi in haar gesig. Dit voel of sy kan huil, maar sy klim nog in haar kar met ’n breë glimlag en waai hoog bo haar kop: “Thanx, guys, it was fun!” skree sy deur die ruit voor sy weg ry.

Toe haar kar by die sportveld se hek uitry, loop die trane oor haar warm, rooi wange, maar sy troos haarself dat sy nie opgegee het nie.

Die volgende oggend is daar nie ’n spier in haar lyf wat nie pyn nie!  Sy moet uit die bed uit rol en lank onder ’n warm sort staan net om die gebruik van haar ledemate terug te kry.

Sy gaan laai haar kinders by die skool af en is baie versigtig om nie een van die ander mammas raak te loop nie, maar sy voel tog sy moet vir die sekretaresse gaan vra waar sy was.  Sy ’t dan belowe om haar daar te kry!

Toe sy pyn-pyn by die skool se voorportaal instap, groet die sekretaresse met ’n  breë glimlag: “En....waar was jy gister aand?”

“What do you mean, where was I?  Where were you!?  I almost died!” kap sy verontwaardig terug.  “Why did’nt you tell me they are so mean?”

Uit die verwarde uitdrukking op sekeretaresse se gesig, het engelse vriendin besef êrens is fout...

Soos ons arme engelse vriendin toe daardie oggend tot haar ontsteltenis en bittere vernedering moes uitvind, het die nuwe dorpie waarheen hulle getrek het 2 netbalbane!  Een waarop die skoolspanne (en privaat skool ouers) speel en een waar die Boland ligga span, wat bestaan uit al die mees agresiewe, ernstige spelers van die omliggende dorpe, speel!  Raai by wie se oefening het engelse vriendin opgedaag met haar NorthStar tekies.....

 

 

Social Bookmarking

Add this page to Blinklist Add this page to Del.icoi.us Add this page to Digg Add this page to Facebook Add this page to Furl Add this page to Google Add this page to Ma.Gnolia Add this page to Newsvine Add this page to Reddit Add this page to StumbleUpon Add this page to Technorati Add this page to Yahoo

wit-olifant5

Kontak Ons

René van der Merwe

082 773 9621

rene@boesembuddies.co.za

Anel Horne

083 321 7184

anel@boesembuddies.co.za

RSS Feeds