You are here: Home Stories 'n Huisie met 'n hart

Wit Olifante

'n Huisie met 'n hart

Ek en skoonsus kry onlangs ’n “lead” vir ‘n ou tafel wat een van ons BoesemBuddies vriendinne soek.  Ons besluit om te gaan inspeksie hou laat een Donderdag middag.

Die pad na die plaas lei ons deur die mooiste gedeelte van Malmesbury wat meeste mense nog nie gesien het nie.  Die plaas lê diep in die klowe van die Paardeberg.

So ry ons op die growwe grondpad en sit en vergaap ons aan die omgewing. Plek-plek staan werkershuisies van die verskillende plase langs die pad. Dit was al skemer, maar my oog vang een van die huisies en ek wys vir skoonsus.

Daar staan 4 eenderse, wit (dit was in elk geval eens op ’n tyd wit) huisies.  Klein, met net een deur. Vierkantig, regop en verwaarloos.  Die vêrste een se vensters is uitgegooi en die bossies en droëe gras groei tot teen sy mure.  Die tweede vêrste een het ’n bruin bo-deur en ’n groen onder-deur en een van die dakplate is duidelik na die tyd vervang met een van ’n ander kleur en grote.  Die huisie naaste aan die pad se een trappie is half afgebreek en die stukke sement en bakstene lê  tussen die bossies en gras voor die huis.

Maar die tweede huisie staan kop en skouers bo sy verwaarloosde bure uit.  Sy verf is net so verweer.  Die bossies en gras groei ook tot teen sy mure.  Sy vensterrame se verf dop ook af. Maar op sy voordeur hang ’n reuse geroeste draad hart.  Dit is ’n breë gevlegte hart.  Wie dit ook al gemaak het, het baie tyd en moeite daarin gesit.

Die gesig van die hart op die deur van ’n erg verwaarloosde huisie langs die grondpad, was so onverwags dat ek en skoonsus lank daaroor gepraat het.

Die mense wat daar woon is nie die tipe mense wat geld aan geroeste draad harte sal spandeer nie.  Dis nie ryk mense nie. Dis gewone plaaswerkers.  Dus  neem ons aan dis self gemaak.  Dit beteken een van die volgende dinge, het ek en skoonsus gefilosofeer:

1.                    iemand in daardie huis is lief genoeg vir mooi goed om die moeite te doen om ‘n reuse draad hart op sy vervalle hout deur te hang ten spyte van die “obvious” probleme wat hy/sy het.

2.                     iemand in daardie huis het iemand wat hom/haar  lief genoeg het om vir hom/haar ’n hart te vleg van geroeste draad.

Hoe dit ook al sy, daardie huisie dra die merk van liefde.

Ons het toe nie die tafel gekry nie, maar ek en skoonsus stem saam dat ons daardie klein huisie met die groot hart altyd sal onthou...

 

 

 

 

Social Bookmarking

Add this page to Blinklist Add this page to Del.icoi.us Add this page to Digg Add this page to Facebook Add this page to Furl Add this page to Google Add this page to Ma.Gnolia Add this page to Newsvine Add this page to Reddit Add this page to StumbleUpon Add this page to Technorati Add this page to Yahoo

wit-olifant5

Kontak Ons

René van der Merwe

082 773 9621

rene@boesembuddies.co.za

Anel Horne

083 321 7184

anel@boesembuddies.co.za

RSS Feeds