“Niggie-goed gaan trou!” skreeu ek vir skoonsus oor die telefoon. “Met wie?” hou skoonsus haar nog snaaks. Dis hoe die hele storie van Dons-Dons begin het.
Maar om die storie ten volle te verstaan, sal ek eers moet verduidelik wie Dons-Dons is en hoe hy in die prentjie pas.
Dons-Dons is die mooiste ligblou budgy wat julle in julle lewens al gesien het. Ek hou nie daarvan om na hom as “my” budgy te verwys nie, want hy het so ‘n sterk persoonlikheid dat niemand hom ooit regtig kan besit nie. Dons-Dons was ‘n verjaarsdag geskenk van mooi vriendin (sien “Die keer met die aandrokke”). Hy is ‘n baie oulike voëltjie, maar as daar een ding is wat hy nie kan hanteer nie, is dit kinders. My kinders het al moed opgegee om sy guns te probeer wen.
Maar terug by die storie.
So gaan die tyd verby en ons beweeg nader aan die troue. Omdat Niggie-goed mos nou my èn skoonsus se familie is, val die taak om haar niksvermoedend by die venu van die “kitchentea” te kry toe vierkantig in die BoesemBuddies se skote.
Ons het baie lank gedink en gedink, en uiteindelik ‘n briljante plan beraam.
Ons versin toe die storie dat ons altwee die naweek van die “kitchentea” nie op Malmesbury sal wees nie, maar dat ‘n kliënt van BoesemBuddies ‘n “campingcot” gekoop het en die “cot” moet afgegee word by ‘n gastehuis op die dorp. Om haar op die regte tyd daar te kry jok ons verder dat “Nonnetjie” by die gastehuis in die kombuis werk en dat sy die Saterdag middag 3 uur daar sal wees om haar “pay” te kry.
Maar omdat dit die laaste naweek is voor die troue en ons bang is dat Niggiegoed snuf in die neus sal kry, probeer ons ons storie versterk deur haar sommer te vra of sy nie na Dons-Dons sal kyk die naweek nie, want die kat is swanger en ons is bang hy spring die hok van die kas of, want hy vreet deesdae vreeslik!
So spreek ons af dat ek die “campingcot” en vir Dons-Dons die Vrydag oggend by aanstaande neefgoed se huis sal gaan afgee. Ons het egter nie ingedagte gehou dat dit die naweek is waarop Niggiegoed van die Strand af Malmesbury toe trek nie.
So kom ons die Vrydag oggend by aanstaande neefgoed se huis en daar is net 2 baie opgewonde honde wat ons inwag. Bel – O, sy’t skoon vergeet. Hulle is in die Strand besig om die trek te laai, maar ek moet sommer die “cot” en vir Dons-Dons by haar aanstaande skoonma se huis gaan afgee. Sy sal haar bel.
So kom ons, na ons die aanwysings sorgvuldig gevolg het, te staan voor Niggiegoed se aanstaande skoonma se huis. Nou kan julle julle die gesig voorstel wat die arme Tannie toe begroet toe sy die deur oopmaak. Want hoewel ons mekaar al ontmoet het, sou ons mekaar nie met die eerste oog opslag erken nie. En daar staan Skoonsus met die “campingcot”, opgevou soos ‘n reuse skooltas en ek met Dons-Dons se hok in die een hand en die glas blompot waarin sy saadjies is in die ander. Niggiegoed het nie gebel nie…
“Ek het nie ‘n voëltjie bestel nie.” sê die Tannie vriendelik en kyk verward na my en skoonsus.
“Nee, Tannie, …” verduidelik ons. “Het Niggiegoed nog nie gebel nie?”
“Nee, sy het nie, maar kom in.” sê sy toe daar ‘n mate van herkening oor haar kom.
Ons verduidelik toe vir haar wat aangaan en die Tannie is toe beindruk met die BoesemBuddies se plan en bly om deel van die leun te word. Sy sê ons kan die “cot” en vir Dons-Dons daar los. Sy sal dit vir Niggiegoed gee sodra sy kom.
So los ons toe vir arme Dons-Dons langs die blou “campingcot” in die aanstaandes se netjiese sitkamer. Ek huil amper toe ons in die kar klim, want Dons-Dons het my met bang ogies en ‘n “Môre, Dons-Dons” gegroet toe ek by die voordeur uitloop.
Ek bel kwaad vir Niggiegoed en sê sy beter nie dat Dons-Dons vir die dag in die vreemde mense se sitkamer staan nie, want sy weet hoe inkennig hy is.
Soos die noodlot dit wil hê, kom Niggiegoed se aanstaande skoonsuster met haar kinders toe ‘n week vroeg vir die troue en die kinders vind toe in Dons-Dons ‘n groot bron van vermaak. Hulle smeek vir Niggiegoed om Dons-Dons by hulle te los vir die naweek en oor Niggiegoed nie kwaaivrinne wil maak met die aanstaandes voor die troue nie, sê sy dis reg.
Saterdag middag, wag ons almal vir Niggiegoed in by die venue en sowaar, presies op tyd, kom sy met die “campingcot” daar aan. Die plan het gewerk! So eet ons “cupcakes” en drink vonkelwyn, maar toe ek vir Niggiegoed ‘n oomblik alleen kry, vra ek hoe dit met Dons-Dons gaan.
“Nee,” lag sy. “ Die kinders geniet so die voël. Hulle dra hom oral waar hulle gaan saam in die hok. Aanstaande Skoonma moet kort kort die waterbakkie volmaak, soos die hok om die hoeke van die huis stamp en die water uitstort.”
Nou, oor dit haar “kitchentea” was, en skoonsus haar duimnael onder die tafel in my knie gedruk het, glimlag ek toe net asof ek nie die ligte beroerte voel wat deur my gaan nie.
Toe Niggiegoed se aanstaande skoonma groet, trek ek vir skoonsus ook op. “Ook nog baie om te doen en die kinders is by die mans…” groet ons en druk vir Niggiegoed, want ten spyte van haar hoogverraad, is sy een van my gunstelinge!
In die parkeer plek, sê ek : “ Tannie, ek kom sommer nou agter Tannie aan om vir Dons-Dons te kom haal.”
“Ag, los hom nog ‘n dag of twee, die kinders geniet hom so!” sê die Tannie.
“Nee, Tannie, ek verlang hom te veel!” glip dit uit voor ek myself kan keer.
“O, ok..” sê die Tannie bietjie uit die veld geslaan en ons ry agter hulle aan tot by hulle huis.
Toe Dons-Dons my sien, spring hy met altwee voetjies teen die tralies naaste aan my en skree benoud: “Pragtige voëltjie!” asof hy ‘n smeekgebed opstuur.
Ons bedank die Tannie dat sy so mooi na Dons-Dons gekyk het, maar voor ons loop, vra die Tannie: “O, ja, ek wou jou nog vra..Is die “cot” regtig te koop? Ek soek een vir iemand wat ek ken.”
En net daar verkoop ons toe die “camping cot” aan die Tannie.
Toe ons vir Dons-Dons in die kar laai, gaan sit hy op sy stokkie en pof sy vere verwoed op asof hy die trauma van die vreemde huis en die kinders van hom wil afskud. “Môre, môre! Pragtige voëltjie! Soen-soen-soen-soen” sê hy.
Ek en skoonsus het Dons-Dons bedank vir die houe wat hy vir die span gevat het daardie naweek, en om ons dankbaarheid te bewys, het ons hom tot ere lid van die BoesemBuddies span verklaar.












Wit Olifante