Baie maande terug, in BoesemBuddies se “word-by-mouth” dae, kry ek en skoonsus ’n klomp aandrokke om te verkoop. Regtig mooi rokke wat van ’n boetiek in die Kaap wat toegemaak het en al die rokke teen ’n skamele R300 per stuk verkoop.
Ons het in daardie tyd nog maar net so tussen ons kennise en vriende gekoop en verkoop, maar met die pragtige rokke moes ons toe ons tegnologiese kant bietjie verken. Ons besluit toe om die rokke af te neem en per e-pos te adverteer. Die enigste ding was dat ons ‘n bietjie gedruk was vir tyd, want die matriekafskeid was om die draai en omdat dit die laaste stock in die winkel was, was dit almal klein nommertjies, so matriek meisies was ons teikenmark!
So ons maak toe ’n datum vas en reël dat iemand na die kinders kyk tot die mans by die huis kom. Ek verneem toe na ‘n model wat vir “blootstelling” sal werk. ‘n Pragtige nr. 32 matriekmeisie en ek boek haar vir die Woensdag middag om 3 uur. Maar omdat die woord “boesem” in ons naam voorkom, is die model se ma toe ‘n bietjie skrikkerig om haar onskuldige dogter aan die onbekende bloot te stel en ons model trek kop uit op die middag van die “shoot”. Die foto’s moes dieselfde aand nog op die nuusbrief gelaai en uitgestuur word. Wat nou?
Daar sit ek en skoonsus toe met die langlens digitale kamara (wat ons moes leer werk) en die rail met die pragtige rokke en geen mens om dit voor aan te trek nie. Ons kon dit seker self aantrek en mekaar afneem, maar die idee was nie om ’n snaakse e-pos uit te stuur nie, ons wou die goed verkoop! Ons sit nog so en verloor die daglig by die swembad terwyl ons moedeloos deur ons kleiner geboude kennise gaan toe die deurklokkie lui.
Dis toe ‘n vriendin wat ‘n tweedehandse golfstel kom haal wat sy gekoop het. Ek en skoonsus kyk na mekaar en ...TING!...gaan die lig by ons aan, want dis ons enigste vriendin wat nog haar hoërskool lyf het en met haar lang blonde hare, is sy perfek ...as ons haar net kan oortuig, want sy weet nie sy is mooi nie en sy is beskimmeld.
Voor ons nog die deur oop het, het ek en skoonsus klaar ons plan van aksie agtermekaar.
“Is julle mal?” skree sy. “Nooit sal ek dit doen nie! Vergeet dit! Ek is in elk geval haastig! My man se mond is klaar dik oor hy na die kinders moet kyk.”
“Asseblief, net een of twee rokke, dit sal nie lank vat nie!” smeek ons, maar mooi vriendin weier soos ‘n steeks donkie.
Dis skoonsus wat die bottel witwyn oopmaak terwylek die golfstel wat ons vir weke vir haar gesoek het as troefkaart gebruik. Na vyf minute se onderhandelinge oor ‘n verlaagde prys en ons belofte dat geen foto’s die wêreld sal ingestuur word sonder haar goedkeuring nie, verdwyn ons model in die studeerkamer met die eerste aandrok op die hanger.
Toe sy uitkom, hou ons minder van haar. Sy lyk stunning! Ons vat elke man ’n sluk wyn en veral mooi vriendin se glas sak vinnig voor die eerste beeld verewig word.
Maar dis al te donker buite en ons neem haar binne die huis op die trap af, maar nog is die foto’s te donker.
Mooi vriendin was aan die begin haastig, maar raak dit na die glasie witwyn met ons eens dat ons dit liewer ordentlik moet doen. Ons sal erens ‘n lig genoeg kol in die huis moet kry. Dis toe dat ek die plan kry om skoonsus se staanlamp in die sitkamer se lampskerm af te skroef en mooi vriendin onder die downlight in die stitkamer te laat staan langs ’n barstoeltjie met ’n bedlamie op.
Toe trek ek die kragdraad van die staanlamp so vêr as moontlik aan mooi vriendin en rig die ontblote warm bulp soos ’n swaard op haar.
“Sorg net dat jy nie die bulp en die barstoel inkry nie.” sê ek vir skoonsus. “En maak gou, my knieë kry seer van so sit.”
“Ek weet nie hoe om te lyk nie!” se mooi vriendin en vat nog ‘n sluk wyn.
“Trek net jou maag in en druk jou tong teen jou verhemelte vas as jy glimlag. Dit vat mens se dubbelken weg.” se skoonsus.
En met hierdie waardevolle raad, word daar toe ‘n model, fotograaf en beligtingsingenieur gebore!
Mooi vriendin glimlag met haar tong teen haar verhemelte, ek sit lê in ’n twyfelagtige posisie met die staanlamp gevaarlik naby aan mooi vriendin en skoonsus flits soos ‘n professionele fotograaf van alle kante terwyl sy deurlopend die model se lof besing. Na elke rok, help ons vir mooi vriendin in die volgende rok in en hang die vorige netjies terug op die hanger.
Ons het die golfstel teen kosprys aan har vekoop daardie aand, maar ons het haar in al die nr. 32 rokke afgeneem en die e-mail is daardie selfde aand nog uit!
Die dik monde van ons mans toe ons lank verby donker by die huis kom, was alles die moeite werd, want ons het geweet: al verkoop ons nie een van daardie rokke nie sal ons altyd onthou hoe seer ons maagspiere was van lag by BoesemBuddies se eerste amptelike “photo shoot.”












Wit Olifante